Nooit te oud vir lekker saamsing nie!

HONDERDE kilometers weg van mekaar oefen hulle afsonderlik, maar met een gemeenskap-like doel voor oë: die Oos-Kaap se eerste Seniorburger-koorfees.

Koorsangers uit Oos-Kaapse dorpe en stede, soos Adelaide, Bedford, Boesmansriviermond Dias, Despatch, Graaff-Reinet, Gqeberha, Jeffreysbaai, en Oos-Londen, gaan deel wees van dié koorfees.

Dit word op Saterdagoggend 17 September om 11:00 in die NGK-sentrum in Wavecrest, Jeffreysbaai aangebied en die interessante hiervan is dat die deelnemers vroeër op daardie oggend vir die eerste keer saam gaan oefen vir die laatoggend-aanbieding. Intussen oefen almal wel dieselfde liedere in die dorpe of stede waar hulle bly.

Die bekende koorleier, Bouwer van Rooyen (onder meer van Cantando@Algoa-faam), het die saadjie vir hierdie Seniorburger koorfees geplant, en ’n groepie toegewydes het saam met hom ingespring om dit ’n werklikheid te maak.

’n Besonderse bydrae van Bouwer tot koorrepertorium is die Afrikaanse teks wat hy vir verskeie koorwerke voorsien het, onder meer Plea for Africa wat op Youtube as Pleidooi vir Afrika te hoor is

Bouwer sê die konsep vir die Seniorburger-koorfees is oorgeneem uit Bloemfontein waar hy vroeër jare gewoon het. “Daar was ’n dame – Anna de Jager – wat die dryfveer was vir ’n Vrystaatse Seniorburger-koorfees. In ’n sta- dium het sy my genader om elke jaar die massakoor te dirigeer. Dit was ’n groot onderneming wat naderhand uitgeloop het op die deelname van 17 dorpe in die Vrystaat en ongeveer 250 senior burgers saam op die verhoog vir die massakoor.”

Toe Bouwer uitgetree het as koordirigent van Cantando@Algoa, het hy besef heeldag sit en duime draai is nie vir hom nie, en toe kom die idee by hom op om te doen wat Anna de Jager in die Vrystaat gedoen het.

Positiewe reaksie

“Ek het een aand ’n klomp koorsangers en musikante oorgenooi om die idee te toets en dit is met ope arms ontvang. ’n Komitee met toegewyde, passievolle mense is op die been gebring en die wiel is dadelik aan die rol gesit om deelnemers van reg oor die Oos-Kaap te nooi.”

Die reaksie was oorweldigend positief – van koorsangers deur na individue en gemeentes- en dit het ’n aanbieding van die Oos-Kaap se eerste Seniorburger-koorfees moontlik gemaak, sê Bouwer.

“Die naam ‘koorfees’ in die titel mag misleidend klink, want dit kan die indruk skep dat die een koor na die ander gaan optree, maar dit is nie so nie.

“Die massakoor is heeltyd, van begin tot einde, op die verhoog en bied die hele program aan. Die koor se mans en dames asook die gehoor doen plek-plek beurtsang. Daar is ook verse wat deur soliste, Elmari Meyer en Samuel Murray, hanteer word. Tussen die koorsang is daar vier items deur instrumentaliste. Die woorde van die verse wat die gehoor sing, word op skerm vertoon,” verduidelik Bouwer.

Die ankerkoor sal die Jubelkoor van Jeffreysbaai onder leiding van Annatjie Smit wees, voeg Ronel Maarschalk, komiteelid van die koorfees, by. “In totaal verwag ons so 120 koorsangers, dit is wonderlik. Ek glo dis die passie vir koorsang wat hierdie mense dryf.”

Die tema

Daar word beoog om hierdie ’n jaarlikse instelling te maak en dat elke jaar ’n ander tema vir die liedere sal hê. Die tema vir hierdie jaar se Seniorburger-koorfees is Suid-Afrika se na-tuurskoon, daarom kan die gehoor uitsien om liedjies soos Klein Karoo, Drakensberge van Verlange, Lied van die Boland, Groen is die land van Natal en Erika te hoor.

Die program sluit ook musiek-items in, onder meer klavierspel, ’n konsertinakeurspel deur Frikkie MacDonald van Alexandria en ’n saagduet deur die broers Isak en Samuel Murray van Jeffreysbaai.

“Die sang sal meestal eenstemmig wees,” verduidelik Michiel Cruywagen, ook ’n lid van die organiseringskomitee. “Op die dag van die Seniorburger-koorfees gaan al die deelnemers eers van 09:00 tot 10:00 oefen. Die uitvoering voor die gehoor vind om 11:00 plaas.”

Musiekliefhebbers wat graag hierdie besonderse geleentheid op 17 September in Jeffreysbaai se NG kerksentrum wil ervaar, sal vroeg genoeg moet opdaag om ’n sitplek te verseker, want kaartjies word nie verkoop nie.

“Danksy borge wat meeste van die onkoste van die Oos-Kaap se eerste Seniorburger-koorfees dek, sal daar slegs ’n kollekte by die ge-leentheid gehou word,” verduidelik Michiel.

Vir verdere navrae oor die geleentheid kan Bouwer van Rooyen by 082 200 9415 geskakel word.